Rooimier Kultuur

Daar was geen “klein begin” ten opsigte van Die Laerskool Rooihuiskraal se kultuur nie! Vanaf die skool se eerste bestaansjaar het verskeie aktiwiteite die lig gesien. Elke derde jaar bied die Rooimiere ‘n massa revue aan en elke leerder in die skool word dan by hierdie geleentheid betrek. Die spreekkore, revuegroepe, redenaars, drama, ens. het elk in die verlede al groot hoogtepunte gehad in onder meer verskeie kunstefeeste, optredes in die Pretoria Staatsteater en kompetisies. Argiewe spog met talle A++ simbole, kategoriewenners en 1ste plekke in kompetisies.

Die Laerskool Rooihuiskraal bied verskeie kultuuraktiwiteite aan. Redenaars en spreekkoor vind op verskillende oggende plaas gedurende die week van Dinsdae tot Vrydae vanaf 7:00 tot 7:30. Die rede hiervoor is die feit dat meeste leerders ook aan sportaktiwiteite deelneem in die middae en hulle dan op hierdie wyse geleentheid kry om by beide betrokke te raak. Huidiglik is daar ‘n spreekkoor vir Gr. 1 en 2 leerders, een vir Gr. 3 en 4 leerders, en ‘n senior spreekkoor vir Gr. 5 tot 7 leerders.

Junior revue akkommodeer leerders van Gr. 2 tot 4 en oefening vind plaas om Maandae vanaf 15:00 tot 17:00 in die saal. Die Senior Revue oefen op Woensdae vanaf 13:45 tot 15:45 en word saamgestel uit Gr. 5 tot 7 leerders. Oudisies vir beide groepe vind aan die begin van die jaar plaas.

Die betrokke personeel by elke aktiwiteit is sigbaar onder elke afdeling.

Die Rooimiere is opgewonde oor kultuur en behalwe dat ons hard werk om uitsonderlik te presteer, bly genot, passie en toewyding die fokus van elke aktiwiteit!